Voorlaaier (geweer)

Uitbeelding van Andries Pretorius met sy dubbelloopvoorlaaier op die hoek van die Voortrekkermonument.

’n Voorlaaier is ’n geweer wat, onder andere, tydens die Groot Trek gebruik is en wat by die bek van die loop gelaai is.[1] Dit was die Voortrekkers se vernaamste wapen. Elke man het waarskynlik 'n voorlaaier of twee besit en daarsonder sou dit vir hom moeilik gewees het om te oorleef. Dit is nie net gebruik om vleis in die pot te sit nie, maar ook vir verdediging in tye van gevaar.

Alhoewel die eerste tipes perkussie- of doppiegewere destyds al bestaan het, is hulle skynbaar nie tydens die Groot Trek gebruik nie.[2] In enkele gevegte het die Voortrekkers wel van grofgeskut gebruik gemaak. Handwapens soos pistole was skaars. Net enkele Voortrekkers het, sover bekend, wapens soos swaarde en dolke besit, maar messe was algemeen en is soms as wapens gebruik.

Saam met sy voorlaaier het die Voortrekker ’n bandelier met ’n koeëlsakkie asook ’n kruithoring oor sy een skouer gedra wanneer hy iewers heen koers gevat het. Die Voortrekker Lourens de Klerk het in sy "Herinneringe" as volg oor hulle gewere geskryf:

Steen-gewere was algemeen; doppies was nog nie bekend nie. Die meeste mense het gepraat van ’n "snaphaan" en nie van ’n geweer of ’n roer nie. Die algemene kaliber van die snaphane was 6 op ’n pond, tot 12 en selfs 14 op ’n pond – 6 op ’n pond beteken byvoorbeeld 6 koeëls weeg ’n pond [450 gram]. Dit is waar die benaming "sesponder", of 12- of 14-ponder, vandaan gekom het.[3]

Benewens die standaard-enkelloopvoorlaaiers het sommige Voortrekkermans ook dubbelloopgewere gehad. Elke loop was met sy eie pan en vuursteen toegerus.[4] Andries Pretorius het so ’n dubbelloopvoorlaaier besit en tydens die Slag van Bloedrivier gebruik. Hy word inderdaad met daardie geweer in sy hand as een van die vier hoekwagte van die Voortrekkermonument in Pretoria uitgebeeld.

  1. "Voorlaaier" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 13 Januarie 2020.
  2. Pretorius, Op trek, ble. 150-151.
  3. De Klerk, Herinneringe, ble. 253-254.
  4. De Klerk, Herinneringe, bl. 254.

Developed by StudentB